Isfahan

Isfahan

Esfahān
Stad
Isfahan is in Iran
Isfahan
Isfahan
Koördinate: 32°38′N 51°39′O / 32.633°N 51.650°O / 32.633; 51.650
LandVlag van Iran Iran
Regering
 • BurgemeesterGhodratollah Norouzi
Hoogte
1 590 m (5 220 ft)
Bevolking
 • Totaal2 243 249
TydsoneUTC+3:30 (IRST)
 • SomertydUTC+4:30
Webwerfwww.isfahan.ir

Isfahan (alternatiewe spelling: Esfahan; Middel-Persies: Spahān; Klassieke Nieu-Persies: Ispahān, in moderne Persies of Farsi: اصفهان Esfahān [esfæˈhɒːn]) is die hoofstad van die gelyknamige provinsie in Iran. Dit is sowat 340 km suid van Teheran op 'n plato in die hartland van Iran geleë waar dit reeds sedert die antieke tydperk as een van die belangrikste stedelike nedersettings bestaan. Gedurende sy lang geskiedenis het 'n groot verskeidenheid geboue en monumente in Isfahan ontstaan waarvan sommige as Unesco-wêrelderfenis gelys is.

Meesterlike Iranse baksteen-boukuns: die Si-o-seh pol of 33 Boë-brug
'n Nagaansig van Si-o-seh pol
Versierings in die Imam-moskee
Sjah- of Koningsmoskee
Versierings in die Bethlehem-kerk (voltooi in 1627)

Met 'n bevolking van 2,2 miljoen is Isfahan die derde grootste stad in die land na Teheran en Mashhad. Sy metropolitaanse gebied is volgens die sensus van 2006 met 3,4 miljoen inwoners die tweede grootste in Iran na Teheran. Swaar nywerhede het in die buitewyke van Isfahan ontstaan. Net soos in ander Iranse metropole is lugbesoedeling en verkeersopeenhopings ernstige vraagstukke.

Isfahan is by die kruispunt van belangrike noord-suidelike en oos-westelike roetes geleë wat dwarsdeur Iran loop, waaronder die hoofroete tussen die Kaspiese See en die Persiese Golf. Isfahan was vroeër een van die grootste stede ter wêreld. Dit het veral in die tydperk tussen 1050 en 1722 gefloreer en sy bloeitydperk in die 16de eeu onder die bewind van die Safawiede beleef toe dit vir die tweede keer in sy geskiedenis as hoofstad van die Persiese Ryk gefungeer het.

In 1598 het sjah Abbas I (1588–1629) sy regeringsetel na Isfahan verskuif en besluit om die stad met 'n uitgestrekte kompleks van moskees, paleise, basare, groen ruimtes en lanings bome aan weerskante van strate uit te brei. Paradysstede, wat in die Koran beskryf word, het as voorbeeld vir Abbas I se ambisieuse stadsvernuwing gedien. Isfahan het vervolgens tot 'n belangrike ekonomiese sentrum ontwikkel wat naas sy administratiewe funksie veral op godsdiens en handel gebaseer is. So word die verbintenis tussen geestelike en wêreldlike sfeer en tussen Islamitiese geloof en boukuns in die koningsplein Medan-e Sjah weerspieël waar moskee en basaar aan weerskante ontstaan het.

Die kulturele en argitektoniese erfenis uit hierdie glorietydperk is grotendeels tot vandag bewaar. Isfahan se befaamde Islamitiese boukuns sluit breë lane, oordekte brûe, paleise, moskees en minarette in. Isfahan se Sjah- of koningsplein, wat tans as Imam- of Naghsh-e Jahan-plein bekend staan, is een van die mees uitgestrekte stadspleine ter wêreld en 'n eersterangse voorbeeld van Iranse en Islamitiese boukuns. Dit is deur Unesco in 1979 as wêrelderfenisgebied gelys. Daarnaas staan die stad vir sy groot verskeidenheid historiese monumente en skilderkuns bekend, waaronder Zoroastriese vuurtempels, Christelike kerkgeboue (soos die Armeense Vank-katedraal) en Joodse sinagoges. 'n 16de eeuse Persiese spreekwoord (Esfahan nest-e jahan) beweer: "Isfahan is die halwe wêreld".


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search